Jy
en ek staan tans op 'n sekere plek in ons geestelike lewens. Nie een
voor die ander, of in 'n ry, of iemand beter as 'n ander een nie.
Mense praat maklik van 'n groot Christen. Is dit dalk 'n persoon wat
gered is, 'n intieme verhouding met Jesus het en ernstig oorgewig
is? Dan is ek seker ook 'n groot Christen. Maar op een of ander
manier het ons hier gekom, glo ons wat ons glo en het ons sekere
persepsies van dinge op Geestelike vlak. Daar mag dalk redelike
verskille wees in ons geloofslewe, maar wat niks met ons saligheid
te doen het nie. Ek wil graag vandag praat oor die verskillende
fases waardeur ons gaan om by die punt te kom waar ons nou is.
Fase 1 is waar die kind
begin om sy verstand te kry en begin om sekere persepsies te
ontwikkel. Waar jy as ouer daardie kind bekendstel aan hierdie ding
wat ons godsdiens noem. Ons leer hulle van Liewe Jesus, die krip, en
al die mooi verhale van Jesus.
Mark 10 : 13 - 16 Die mense het
kindertjies na Jesus toe gebring dat Hy hulle moet aanraak. Sy
dissipels het met die mense daaroor geraas. 14 Maar toe Jesus dit
sien, was Hy verontwaardig en het Hy vir hulle gesê: Laat die
kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die
koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. 15 Dit verseker Ek
julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie,
sal daar nooit ingaan nie. 16 Hy het sy arms om die kindertjies
gesit, hulle die hande opgelê en hulle geseën.
Jesus stel dit baie duidelik dat
kinders vir Hom baie belangrik is. Soveel so, dat Hy sê dat net
mense wat die koninkryk van God soos 'n kind ontvang, gered sal
word.
In Mark 9 : 42 waarsku Jesus dat
ons ons kinders nie afvallig moet laat raak nie. 'n Kind is soos 'n
spons en aanvaar maklik dinge wat hulle geleer word en waaraan hulle
blootgestel word. Fase 1 moet ons as ouers ALLES doen om te verseker
dat ons kinders geestelike dinge verstaan.
Fase 2 is nogal 'n moeilike
fase. Wanneer 'n kind 'n tiener word, gaan dit dikwels nogal erg met
frustrasie gepaard. Baie jong mense het nie te veel erg aan hierdie
dinge nie, praat nie geredelik oor Geestelike dinge nie en hou nie
regtig van pa en ma se rituele soos kerk toe gaan, stiltetyd hou,
ens. nie. Maar weet jy, dis juis die tyd wat ons as ouers moet
vasstaan. Hier tel woorde egter nie veel nie. Dis ons optrede en
dade wat iets beteken. Hoor jou kind jou ooit hardop bid? Sien hy
jou deelneem aan Geestelike aktiwiteite? Dis nou die tyd wat die
heel belangrikste is om ons kinders op koers te kry. Kyk, die
gemiddelde tiener praat net met sy ouers as hulle iets nodig het,
die res van die tyd is jy maar redelik idioties. Maar eendag as
hulle volwasse is, sal hulle erken dat die grootste geestelike
vorming plaasgevind het in hierdie tyd van hulle lewe. Ons moet
voortgaan om hulle te leer, ons moet standvastig wees, en "practice
what we preach".
Deut 6 : 6 - 9 Hierdie gebooie
wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. 7 Jy moet dit
inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis
is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. 8 Jy moet
dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk
op jou voorkop wees. 9 Skryf dit op jou deurkosyne en op jou
stadspoorte.
Sjoe, kan jy sien wat die Here van
ons verwag? Mense kla dat hulle kinders nie iets met die Here te
doen wil hê nie. Maar dis eintlik omdat daar nie genoeg voorbeeld is
nie. Al gehoor mense kla omdat Godsdiens uit skole gehaal word? Of
uit die grondwet? Aan die een kant wil ek sê, dis goed, want ons los
ons geestelike verantwoordelikheid vir ander partye. Nou word ons
eintlik gedwing om dit terug te bring huis toe. Blootstelling aan
ander godsdienste is goed, as jy weet wat jy self glo, en as dít die
waarheid is.
Fase 3 is eintlik 'n lekker
fase. 'n Tyd van ontdekking, groei en verstaan waaroor dinge gaan.
Dan is 'n jongmens eintlik op sy eie. Pa en ma het nou ingebou wat
hulle kon en nou moet 'n persoonlike verhouding ontwikkel tussen die
persoon en die Here. 'n Tyd van baie vrae en twyfel, terugsak
(backslide), maar dan ook diepe en intieme soeke na God. Dikwels is
dit die maak of breek tydperk, wanneer Jesus Christus óf 'n ware en
egte realiteit word óf 'n persoon soms sy geloof verloor. Baie mense
kom in hierdie tyd waarlik tot bekering, hoewel baie baie mense al
as kinders of jongmense hulle hart vir die Here gegee het. Ek dink
ook ons as ouers moet in hierdie tyd nie ophou om 'n voorbeeld te
stel vir ons kinders nie, want die invloede van buite kan nogal fel
wees. Ek onthou so goed destyds in die weermag met diensplig, hoe
moeilik dit was om op te staan vir jou geloofsoortuiging. Dit het
eintlik soms onmoontlik gevoel. Kyk, daar was nie eintlik veel
rolmodelle gewees nie, en die kapelaan was maar 'n ander man gewees.
Maar tog was daar 'n luitenant wat vasgestaan het, Lt Human. 'n Fase
wat aan die een kant lekker was, maar ook met baie turbulensie
gepaard gegaan het.
Die laaste fase is die
beste! Mits alles in plek is.
1 Kor 3 : 1 - 3 Broers, ek kon
met julle nie praat soos met mense wat hulle deur die Gees van God
laat lei nie; ek moes praat soos met wêreldse mense, soos met
kindertjies in die geloof in Christus. 2 Ek het julle met melk
gevoed, nie met vaste kos nie, want julle kon dit nog nie verteer
nie. En julle kan dit ook nou nog nie verteer nie, 3 want julle is
nog wêreldse mense. Daar kom jaloesie en twis onder julle voor. Is
dit nie omdat julle nog wêrelds is en julle wêrelds gedra nie?
Geestelike volwassenheid. 'n Tyd
waar 'n diep gewortelde verhouding met God begin vestig. Om te
verstaan en aanvaar wat aan die kruis gebeur het en dat dit waarlik
vir mý is. Om te verstaan dat ons nie kan lewe sonder 'n vaste wete
van die stand van ons saligheid nie.
Pred 12 : 1 "Dink aan jou
Skepper in jou jong dae voor die swaar dae kom, die jare aanbreek
waarvan jy sal sê "Ek het daar niks aan nie".
'n Wonderlike gedeelte in die
Bybel waar die Here ons voorberei op die einde.
Vers 7 "Die tyd wanneer die
stof na die aarde terugkeer soos dit was, en die Gees na God
terugkeer wat dit gegee het."
Ongelukkig wag so baie mense te
lank om in 'n verhouding met Jesus betrokke te raak. Die Bybel sê
eintlik dat die meeste mense dit nooit doen nie.
Matt 7 : 13 Gaan deur die nou
poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad
daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie.
Watse invloed het jou ouers op jou
geestelike lewe gehad? Miskien het jy jou diepgewortelde geloof dáár
gekry. Miskien was die invloed min. Maak nie saak nie, want dis nie
te laat nie.
Die vraag wat BAIE belangriker is, is "watse invloed het ek en jy op
ons kinders se Geestelike lewens". Ons voorbeeld, wat en hoe ons
hulle leer, waaraan ons hulle blootstel. Ons moet bid vir ons
kinders, want die valse leerstellinge is volop. Maar ons moet regop
loop, in die regte rigting, saam met Jesus, op pad hemel toe, dan
doen ons wat God van ons verwag.
"Dink aan jou Skepper, in jou jong
dae ……. "
|